Friday, August 24, 2012

Poskaart uit die straatkafee


"If more of us valued food and cheer and song 

above hoarded gold, 

it would be a merrier world."

-J. R. R. Tolkien-

Ek geniet dit elke keer wanneer ek by Eat and Drink gaan eet. Dis amper soos 'n straatkafee. Of 'n roadhouse. Mense stop in die straat, toet, en wag vir een van die kelners om hulle bestelling op straat te kom neem. Dit het dalk heelwat te doen met die weer en die gemaksugtigheid van jou deursnit Dubai-aner. Binne-in die restaurant sit 'n taxi-bestuurder langs jou en eet sy sop en shwarma. Aan jou ander kant sit nog 'n expat familie en werk stelselmatig deur die bakke kos op die tafel - enigiets van Pakistani kosse tot Chinees en hamburgers. Iets van alles en iets vir almal. Diskriminasie word by die deur gelos, en dit sien jy nie aldag in hierdie plek nie.

Ek was juis weer gisteraand daar.
      People watching, gunsteling tydverdryf.
      'Lemon mint', gunsteling somerdrankie.
      
En die keer, probeer ek iets anders as my gewone shwarma/hummous/fatoush/shish tawook.. Ek probeer arayes. My pa noem dit arabiese pizza. Dit lyk soos twee ultradun skyfies pizza met maalvleis in die middel. To be quite honest, dit lyk nie lekker nie.. Maar dit is! Ek eet amper al my sussie s'n op.

Wys jou net, partykeer is 'n lekker aand sommer net 'n pizza met pelle, ongeag waar jy jouself bevind.


      

Thursday, August 23, 2012

Die eerste poskaart

"To live is the rarest thing in the world.
Most people exist, that is all."

-Oscar Wilde-


Dis 'n baie stil tyd van die jaar in Dubai. Die wat kan, gaan met vakansie. Die wat nie kan nie, sluit hulle toe in hul huise en kantore. Die uberstad loop leeg. En als wat nie loop nie, verdamp of verbrand in ons tipiese dagtemperature van 45+.

The joy.

Al probleem is dat ek nie 'n sit-in-die-huis-en-wag-vir-winter tipe mens is nie. Die mure druk my vas. Die horison roep my naam. Ek kry myself die heeltyd jammer, en die mense wat my goed ken, sal weet ek is uitstekend daarmee. Die lewe gaan verby. My lysie van dinge wat ek graag wil doen, word by die dag langer, sonder dat ek rerig werk maak daarvan om van die dinge te laat realiseer.

Daarom, uiteindelik, na baie beloftes (van my kant af) en gesoebat (van ander mense, veral my ma) sien my skryfplatform die lig. Expect nothing fancy. Die idee is dat jy van tyd tot tyd kan inloer om te lees wat gaan aan my kant aan. Amper soos 'n virtuele poskaart: net 'n vinnige update. Vir jou is dit iets om te lees, 'n prentjie om na te kyk, miskien dalk 'n gedagte om te oordink. Vir my is dit 'n avontuur. Ek kan beplan, wonder, foto's soek, stories maak, en myself deurentyd herinner aan die diversiteit van ons planeet en ons lewens.

So, welkom by my reis. 

Maak dit ook joune, lees saam, groei saam, stuur terugvoer. Moenie wag vir 'n beter dag nie, spring nou kop eerste in jou lewe in. Dis wat ek nou doen met myne.

Thanks, Ma!